LYNTHIA JULIUS
Om ’n wildeperd te tem
Ek is by ’n fees. Dis 2019. Ek voel hom aankom. Ek voel vir Covid aankom. Iewers stuur die blare dit. Iewers fluister die klippe dit. Ek voel vir Covid aankom. Ek voel hom. Ons sien hom nie. Moenie. Moenie worrie oor my nie. Ek is maar net weer met ’n man. Ek is maar net wee met ’n man wat my afknou as niemand by is nie. Ek is maar net weer met ’n man wat se kyke, wat se woorde, breker slaan as sy vuiste, maar dis okay. Ek ken mans wat lelik met jou is. Ek ken die Bobby Brown’s van die lewe. Ek het ’n PhD in verkeerde mans kies. Moenie worrie oor my nie. Ek. Ék wat se naam Lynthia is. Nee, is orraait, my skat, ek is gewoond.
Dis 2019 en ek voel die koue. Ek voel Bloemfontein koue. Ek haat my werk. Ek werk by ’n fees en ek word voorgestel aan mense. Mense van anner lande. Ek word van gesê: “Let me introduce you to Lynthia. She is First Nation.” Eenkeer. Da weer nog ’n keer. Da die klompste keer en ek sê vir myself, Saartjie Baartman moes iets voel van wat ek hier voel. Oh meet Lynthia (ek vloek my baas in my kop) Lynthia. Her great-grandmother was Nama. Ek wil sy ma vloek. Hard. In hom kop in. Ek vloek nie hom ma nie. Nie hard nie. Ek word weer voorgestel, mee paradeer. Dié keer voor ’n antie van Nieu-Zeeland. Dié mense maak geld uit my uit hier wat ek werk. Ek is baie goed, maar ek was nog nooit dom nie. Ek word weer paradeer soos en wat nie brein het nie. Nie vir homself kan dink nie. Ek word gevat na ’n fênsie restaurant om met dié antie van oorsee te gaan praat. Wyn gedrink en voorgestel, word daar aamekaar gevra ek moet praat oor my dooie oumagrootjie. Ek moet aanhou oor haar praat oor sy ’n Nama was. Okay. Kyk nou wat maak ek.
My baas sê nog so ek moet weer praat oor my ma se dooie ouma, toe sluk ek (diep) van die duur wyn in my glas en sê vir die antie van Nieu-Zeeland (wat ek weet ouer as veertig is), ek sluk van my wyn en sê: “Alle mense bo dertig is fossiele.” Die antie verstik aan haar wyn. My baas se hart kry ingroeitoonaels. Ek glo nie eens mense bo dertig is fossiele nie. Moenie. Moenie met my kak soek nie. Ek is baie goed maar ek was nog nooit dom nie.
Ek werk by die fees van die fossiele en die manager is vieslik met my. Die anner (wit) man-kollega het my vroeër die dag by die werk verskreeu. Ek werk by die fees, want werkloosheid gee aambeie en ek wil nie weer woorde kry van ek sit met ’n honneursgraad by die huis nie. ’n Jong (wat my toe later diep in my rug gesteek het), sê my Gert Vlok Nel perform die aand in Bloemfontein. Fok die werk man, kom ons gaan kyk vir Sjert. My R50 raak weg. Gôt. Nog dit ook. Ek is da reeds broke. Ek is so broke ek wil my hond verkoop en self blaf.
Ons loop suip by Sjert se show en ons kyk die bottel breek en toe ek die oggendure by die man wat ek mee is, wat ek by bly, se meenthuis aankom begin skel hy. Hy rig sy wysvinger op my en hy skel. Hy sou dit nooit voor mense doen nie. Hy sou vriendelik sê: “Ag, sy het nou geval, maar dis nie so erg nie. Hier langs haar oog is nerfaf, maar al wat sy nodig het is bietjie om te tiep, man.”
Ek is die volgende oggend deel van ’n paneelgesprek. Ek en drie anner vrouens. Die een vrou is van oorsee so ek kan nie eens Afrikaans praat nie. Gôt. Nog dit ook. Diana Ferrus is op die paneel. Ek kom skaam-skaam by haar aan. Kop onderstebo. Sy begin lag en vra: “Wat het jy gisteraand gedrink?” My kop word al afgesakker. My bestaan al skamer. Gin, Lady Di, ek het bietjie te veel gin gedrink. Sy lag. Hier langs my oog is ’n skuurplek. Dis nerfaf. O’ jirre, kyk hoe lyk my gesig en ek moet nog loop Engels praat ook. Engels se ma se gat. Engels gee aambeie. Lady Di lag weer en vertel my van toe sy een keer (tydens apartheid) net soos ek, te veel in die bottel gekyk het. Sy het loop staan, met haar kar, voor ’n rooi robot. Twee, wit poeliesmanne het langs haar kom stop en vir haar kak deur die venster geskree. Sy’t hulle middelvinger gewys en oor die rooirobot gery. Wilde vrou dié, Diana Ferrus.
Ons gaan in die lokaal en ek sien hier sit die man wat ek date. My sterwe wou sterwe. Ek smile en waai vir hom. Hy kyk my net. Hy kyk my of ek hom walg. Ek sak my kop en gaan op die verhoog op. Lady Di het gesien. Ek sê haar hy’s kwaad. Hy’s diep kwaad vir my. Sy sê: “Ag, man, ons smeer net oogsalf aan daai hou en môre is hy weer weg.” Sy sê vir my ná die gesprek, ek kan nie iemand date wat met só ’n gesig na my gesprekke toe kom en my kyk met solikke oë nie.
Sy’t gehamer. Aamekaar. Laat ek daai man moet los. Laat ek onner sy gat moet uit. Uit sy gat uit moet kom. Die ding is, Lady Di, ek is gewoond aan mans wat met my lelik is. Ek het ’n PhD in verkeerde mans kies. Ek ken die Bobby Brown’s van die lewe.
Sy’t gehamer, aamekaar. Aamekaar gehamer as sy my by ’n fees kry. Ek moet daai jong los. Ek moet onner sy gat uit. Ek moet uit sy gat uit. Ek moet hom in sy moer stuur. Ek was bang, Lady Di. Ek ken hom al my hele twintigs lank. Ja, hy laat lag my nie meer nie en ek gaan dans nie meer nie, maar Lady Di, hy’s al wat ek ken. Ek weet Frida Kahlo het gesê: Leaving is not enough. You must stay gone, maar as ek leave, Lady Di, waantoe gaan ek? Waantoe gaan my hart? Waar loop slaap ek en my hart? Hy betaal da die meeste van die rent.
Dit was asof. Asof Diana Ferrus my Warsan Shire se woorde wou gee. Asof sy dit in my kop in wou sê. In my kop in wou hamer. Hy wil jou tem, Lynthia. Hy wil jou inbreek soos ’n wildeperd en as jy jou wildgeid verloor, my meisie. As jy jou wildgeid wil verloor, wat het jy dan?
Ons het gin gedrink by feeste – ek en Lady Di. Gin. Witwyn. Sy’t geweet ek hou van chenin. Leave, Lynthia. Stay gone. Moenie by hom bly nie. Sy’t my gekyk asof sy Warsan Shire se woorde wil vir my ingee. Ingee soos Balsem Kopiva om my niere skoon te maak. Om my binne-goed gesond te maak:
you are a horse running alone
and he tries to tame you
compares you to an impossible highway
to a burning house
says you are blinding him
that he could never leave you
forget you
want anything but you
you dizzy him, you are unbearable
every woman before or after you
is doused in your name
you fill his mouth
his teeth ache with memory of taste
his body just a long shadow seeking yours
but you are always too intense
frightening in the way you want him
unashamed and sacrificial
he tells you that no man can live up to the one who
lives in your head
and you tried to change didn't you?
closed your mouth more
tried to be softer
prettier
less volatile, less awake
but even when sleeping you could feel
him travelling away from you in his dreams
so what did you want to do love
split his head open?
you can't make homes out of human beings
someone should have already told you that
and if he wants to leave
then let him leave
you are terrifying
and strange and beautiful
something not everyone knows how to love.
Ek wil nie ’n mak perd wees nie, Lady Di. Ek wou nie mak gemaak word nie. Ek wou nie toelaat laat ’n man my inbreek soos ’n wildeperd nie. Ek wou wild wees, Lady Di. Ek wou eendag in my wildgeid sterwe. Die aarde se mond in. Af sy gorrel af. Om eendag in sy derms te gaan lê. Ja, hy’s lelik, maar hy’s al wat ek ken. Hy is my twintigs vol. As ek wegstap waantoe gaan my hart? Waar loop slaap my lyf en my hart? Hy betaal da die meeste van die rent.
Loop, Lynthia. En moenie net loop nie. Loop en stay gone.
My ouma het gesê ’n langpad het ôk ’n end. Ek het my karige skoene aangetrek en die grondpad in begin loop. My vryheid in begin hike. In hom in. My wildgeid in loop hike. In hom in. Ek het ge-leave, Lady Di. En toe ek leave. Toe ek uit my valse staat van onkunde kom, toe weg, ek opper weg en ek los hom in sy kou agter. Toe hike en hike ek sonner herberg wat voorlê. Sonner slaapplek vir die aand. Laat hy sy rent en sy veilige meenthuis in sy gat op steek. Toe onthou ek ek is nie ’n mak perd nie. Ek word nie ingebreek soos ’n wildeperd nie.
Som vrouens maak vuur van reën. Som vrouens light die son om elke dag te skyn. Som vrouens voed die vuur en hulle leer, by vrouens soos jy, jy steek nie jouself aan die brand om anner mense, om ’n man, warm te hou nie. Ek het ge-leave, Lady Di. Jy het my geleer hoe. Ek hardloop nou die vlaktes in en ek raak nie moeg nie. Jy het my dít geleer. Rus, Lady Di. Rus in jou ewige wildgeid. Ek betaal nou my eie rent.
