LYNTHIA JULIUS
I believe the children for the future
In Springbok, op my ma se stoep, kom Kraai daar aan. Eintlik kom kraai net vir ’n skropetjie om ’n bottel Daisy te koop. Die ou begin sing vir The greatest love of all van Whitney Houston. Hy weet as hy by onse huis klaar gewerk het, kan die ou kop skiet. Kraai begin sing: I believe the children for the future. Almal lag, maar ek lag nie. Ek sit dink. Oordink. Dink aan kjeeners. I believe the children for the future. Ja, Kraai. Ek glo die kjeeners vir die toekoms. ’n Grootmens lieg. Hulle kan lieg, maar ék glo die kjeeners.
Ek moet skryf oor Gaza, maar wat skryf ek? Ek lewe tussen raad soek vir ’n baba wat tande kry. Ek leef tussen lees oor nappy rash. Ek slaap min. Ek sien die pediater. Ek bel my ma aamekaar as my dogter nie orraait is nie. Wat skryf ek oor Gaza? En al skryf ek nie, jirre, het ek enigsins ’n opinie daaroor.
Ek staan in my badkamer in my meenthuis in Kimberley en speel vir We are here van Alicia Keys. Ek staan in my badkamer en begin borsel my tande met Sensodyne terwyl my imphephu die huis vol trek. Sensodyne. Hoeveel brode se geld is dit net nie. Alicia sing. Ek hou aan borsel. Alicia hou aan sing:
We are here
We are here for all of us
We are here for all of us
That's why we are here, why we are here
We are here
Bombs over Baghdad, tryna get something we ain't never had
Let's start with a good dad
So real but it's so sad
And while we burnin' this incense, we gon' pray for the innocent
'Cause right now it don't make sense
Right now it don't make sense
Let's talk about Chi town
Let's talk about Gaza
Let's talk about, let's talk about Israel
'Cause right now it is real
Let's talk about, let's talk Nigeria
In a mass hysteria, yeah
Our souls are brought together so that we could love each other
Brother,
We are here
We are here for all of us
We are here for all of us
That's why we are here, why we are here
We are here
No guns made in Harlem, but yet crime is a problem
He wanna shine, they wanna rob him
Single mother, where they come from?
How we gonna save the nation, with no support for education
'Cause right now it don't make sense
Right now it don't make sense
Let's talk about our part
My heart touch your heart
Let's talk about, let's talk about living
Had enough of dying, not what we all about
Let's do more giving
Do more forgiving, yeah
Our souls were brought together so that we could love each other
Sister,
We are here
We are here for all of us
We are here for all of us
That's why we are here, why we are here
My eenjarige dogter, Aria, kom in die badkamer en begin dans vir die liedjie wat speel. Jirre, Babbie, weet jy wat die lirieke beteken? Jirre, Babbie, die wêreld brand hier buite en ek en jy is beskut teen die vlamme in ons klein meenthuis. In ons klein wêreld wat Ma vir ons probeer skep.
En wat is fout met tande borsel? Wat is fout met ’n baba met haar blink oë en ’n breë smile, wat dans?
Ma gebruik Sensodyne, Artjie en jy word met ’n witbad groot. Met ’n geyser. Met groen gras. Met ’n meterboks wat nie heeltyd skree oor die units ons nie deur die aand sal dra nie.
Maar die wêreld is nie ’n Chocolate Oreo McFlurry nie. Die wêreld is steil brood en ’n laaste pak vleis wat verval het. Dié wêreld skeur en hy sny en hy breek en niemand kom heel uit hom uit nie, maar ek moet skryf oor Gaza. My gôt, wat skryf ek oor Gaza?
Ek maak pampoen en patat en butternut gaar. Ek koop Alula melk. Ek bly wakker deur Bronchitis-aande. Ek kyk Cocomelon tot ek die TV wil breek gooi. Ek verdrink. Ek swem. Ek verdrink. Ek swem. Ek verdrink in my eie ek. In die see van ma-wees. Ek was klein sokkies en unicorn-onezies. Ek maak bottels. Nuk bottels. Ek word wakker met ’n voet teen my gesig. Ek sis. Ek maak droog. Ek maak skoon. Ek tel speelgoed op. Ek borsel my tande met Sensodyne, maar my gôt man. Mý gôt. Wat weet ek van Gaza? En as ek iets weet, waffer reg het ek om daaroor te skryf vanuit die bubble-wêreld wat ek in is?
Ek dink aan wat ek eenkeer op Instagram gesien het. Op Instagram gepost het:
I am washing my face before bed while a country is on fire. It feels dumb to wash my face and dumb not to. It has never been this way, and it has always been this way. Someone has always clinked a cocktail glass in one hemisphere as someone loses a home in another. While someone falls in love in the same apartment building where someone grieves. The fact that suffering, mundanity and beauty coincide is unbearable and remarkable.
Artjie. My Artjie Vartjie Skottelgoed-was. My eerste, my enigste dogter. My eerste aar se bars. Sy hou aan dans op Alicia se song. Sy speel met my Benzac AC 5 gel. Ek maak die badkamervenster toe met buglarbars op. Ek vee my mond af met ’n Mr Price Home handdoek. Ek sê sy moet my gesig-goed uitlos. Sy kyk na my met oë wat blink van vir my vir ’n gat vat, wys na die deur en sê vir my: “Uit, Mamma. Uit”.
Ek vloek haar ma se uit-gat. Aria hardloop in die gang af en papegaai: “Gat”. Ek lag. Die donner is nes ek. I believe the children for the future. Ek ook, Kraai. Ek glo dit. En ek sien die foto’s, Kraai. Ek sien grootmense, maar die kjeeners se trane jaag my en Artjie. Wat as een van hulle Artjie was? Ek sien die foto’s en ek lees van starvation en my hart val uit. Die wêreld se oë slaap en ek sien. Ek sien, Kraai. Die Jirre drink Zolpidems elke aand en God is op kraamverlof en die kjeeners brand. Hulle dood. Dis seer vir die grootmense en my hart is seer, maar my hart stukkend met elke foto stukkender. Ek traak nie oor politiek of godsdiens nie. Grootmense kan maar dolk op dolk in mekaar se sye steek.
Moer mekaar, man. Moer mekaar. Ek haat vrede.
As ’n grootmens sterf val ’n ster uit die lig. By die dood van ’n kjeent word alle sterre miskrame. Steil manna. Dooie kwartels. By die dood van ’n kjeent trap ons die Jirre op sy hart. Ons trap hom dwars oor sy hart en oor die kjeeners, Kraai, is die Jirre klaar ’n psych-pasiënt.
I believe the children for the future.
Ek bad vir Artjie met Purity bad-goed. Ek smeer haar uit met Purity-vaseline. Ek gee haar melk uit ’n Nuk-bottel en die wêreld brand, Artjie, maar óns. Ons grootmense het God se hand afgekap. Tot by die elmboog. Hy het nie geld vir ’n amper-amper arm nie. En hulle sê hy het die hoogste prys betaal met sy seun se lewe. Maar die mense baklei en die wêreld brand en ek weet nie wie die meeste skroei nie. Ek weet nie of dit God is wat die meeste skroei nie. Of dit Jesus is. Allah is. Al die godde wat almal aanroep, my gôt, ek weet fokkol. Wat weet ek van ’n god af? Ek het eers ’n paar maande voor Artjie se geboorte met ’n god van ’n Anglikaanse vrede gemaak.
Let’s talk about Chi town
Let’s talk about Gaza
Let’s talk about, let’s talk about Israel
‘Cause right now it is real
En ek fok nie. Ek fok nie oor politiek of godsdiens of volwasse-etters wat mekaar vrek maak nie. Moer mekaar, man. Moer mekaar. Ek haat vrede. Maar die kjeeners. Hulle word verniel met bloedbesmeerde hande en gierige wapens en die kjeeners hou aan ophou asemhaal. Hulle hou aanhou aan ophou asemhaal en die wêreld brand en die grafte word graftiger en die Jirre slaap van Zolpidems en God kan nie meer die wêreld in sy hande hou nie, hy het stompe vir hande. Hy kan nie meer die wêreld in sy hande hou nie.
Nog ’n kjeentjie hier.
Nog ’n kjeentjie daar.
Nog ’n traantjie val.
Nog ’n gillende ma.
Nog ’n stom pa.
Nog ’n afbeen hier.
Nog ’n skedel met oop oë daar.
Nog ’n kjeentjie aanhou aanhou dood
Hulle sterf. En die wêreld hou aan op sy sy draai. Op sy rug draai.
Ek maak vir Aria slaap. Sy baklei eers. Ek gee haar vir mieja-mieja – haar dummy. Sy speel met my neus. Sy speel met my oor. Die buitelig maak die kamer mens. Sy raak rustig. Klaasvaakie kom haar haal. Eendag sal ek haar nog moet leer wat my ma my geleer het. Ek sál haar leer wat my ma my geleer het. Ek sal haar haar klein hande binne myne saam laat vou en laat sy agter my aan bid:
Lei my op die regte pad
Wil dan ook my handjie vat
Help my Heer want ek is klein
Neem my hartjie en hou dit rein
Om Jesus naam, Amen.
En ek sal langs haar sit. Sy sal ruik ek ruik na Courtleigh en moeg. Sy sal bid soos ek haar geleer het:
Lei my op die regte pad
Wil dan ook my handjie...
Sy sal wil ophou bid oor sy water wil drink. Oor sy gefiltreerde water wil drink. Oor sy verder kán bid. Maar sy moet nooit, nooit daai gebed dáár staak oor die dood haar moes kom haal het nie.
I believe the children for the future, Kraai, maar ek sit in die Noord-Kaap en die vure wat vuurder brand, laat skroei nie eens een van my blond-gedye-de-hare nie. Is ek huigelaar of magteloos? Ek weet nie. Ek weet fokkol meer nie.
Slaap my kjeentjie, slaap sag
Sonner die dood vanaand.
Ek lê vir Aria neer.