ANTJIE KROG
die durf van liedere van groet, heling en erfenis
waarom val die man se huis uitmekaar?
waarom wag sy die windrigting af?
waarom eet sy asem en die aaklig
voorgedagtenis van vrees?
waarom het hy weg gegaan?
waarom is sy nog iemand uit
die ensiklopedie van onvervulde
begaafdes in wonde agtergelaat?
waarom verkies sy om bier te maak?
waarom laat hy ’n warm huis agter?
waarom los hy mielies vir die kinders?
word pyn so deurskynend opgehang?
waarom roep sy Majola,
kom uit uit jou gevangenisskap?
waarom is haar voorname
gekleed in die dunste klank?
sy laat lig los uit haar larinks
sy galm en gloei ’n voetpad oop
lallend kam sy heling uit haar vel
om ’n wêreld wendbaarder te laat
en ons nie vergeet nie: ons mensasem
vrekkig wreed-kouend op ons eie bloed
– en al die jare die appél
van ’n wit voortsloffende volk